Agrimark is die plek vir mense wat lief is vir die natuur en die grond. Ons is hier vir almal wat graag moue oprol en dinge aanpak – soos Uitnood NGK Primêre Skool wat hul eie groentetuin met die hulp van Agrimark Robertson begin het.
Die tak het onlangs tuintoerusting, wat ‘n tuinslang, hark, groentesaad, saailinge, pale, skadunet en kunsmis ingesluit het, geskenk ter ondersteuning van die skool se ‘Groen Projek’.
“Uitnood Primêr wil leerders se belangstelling in die kweek van groente op ’n prettige en interessante manier aanwakker. Om die skool by te staan en te ondersteun is ’n manier om ons CARE-waardes toe te pas,” het Johan Myburgh, Agrimark Robertson se bestuurder, gesê.
Die skool is tussen Robertson en McGregor geleë en het tans 94 leerders. Die skoolhoof, Tami-Lee van Reenen, sê die groente wat geoes word, sal ook vir die skool se voedingskema gebruik word.
“Dankie vir u onbaatsugtige skenking. Die bydrae gaan nie net oor geldwaarde nie, maar ons kon duidelik sien dat julle dit uit die hart gedoen het. Ons kan julle verseker dat dit ‘n werklike verskil in die kinders se lewe sal maak. Die leerders, ouers en onderwysers is baie opgewonde en sien uit na ons eerste oes.”