Kaap Agri het ‘n nuwe logo en handelsnaam-struktuur aangekondig. Die 108-jarige
agribesigheid wat sake doen in die landbou-, brandstof- en verwante kleinhandelsmarkte het sy agri-en handelsbedrywe onder een handelsmerk gekonsolideer.
"Ons strategie vir die handelsmerk en die nuwe voorkoms is die gevolg van 'n jaarlange analise- en ontwerpproses. Ons doelwit was om 'n oplossing te vind wat nie net ons struktuur sou vereenvoudig nie, maar ook klante se bewustheid van al ons besighede sou verbeter en dat dit genoeg inherente aanpasbaarheid sou besit om ons toekomstige ambisie en groei te kon ondersteun," verduidelik uitvoerende hoof van Kaap Agri, Sean Walsh. Die groep se agri en handelsbesighede sal onder een klantgerigte handelsmerk sake doen.
“Die handelsmerk bly getrou aan ons geskiedenis en is van toepassing op ons toekoms terwyl dit modern en vars is.”
“Naas ons Agrimark-winkels, sal die Agrimark-naam nou aangewend word vir ons graan, meganisasie, verpakkingsmateriaal én bande-afdelings. Ons finansiële diensteaanbieding en selfoontoepassing staan onderskeidelik as Agrimark Financial Services en Agrimark App bekend. Soos ons uitbrei, sal nuwe projekte ook die Agrimark-naam dra, byvoorbeeld Agrimark Pet, ons nuwe troeteldierwinkel wat in Desember sy deure in Groenpunt, Kaapstad oopgemaak het.”
“Behalwe dat bemarkingskostes meer effektief benut sal kan word, beteken die feit dat ons wegbeweeg van verskeie en verskillende handelsname na een hoofhandelsnaam, dat ons eenstop-agri-leefstyl aanbod meer herkenbaar sal wees, veral onder nuwe klante en marksegmente,” beskryf Walsh.
Hy voeg by dat die gekonsolideerde handelsmerk-struktuur voordelig sal wees vir Agrimark se verskaffers en hul produkreekse soos die maatskappy voortgaan om sy kleinhandelaanbieding uit te bou.
Op korporatiewe vlak bly Kaap Agri die moederhandelsnaam wat fokus op personeel, die beleggergemeenskap en ander belanghebben des. “Kaap Agri het die vertroue van die landbougemeenskap oor dekades opgebou. Van die bande wat gebou is, strek oor geslagte en die handelsnaam dra baie van hierdie geskiedkundige waarde,” verduidelik Walsh.
Moderne logo’s onthul
As deel van die strategie is Kaap Agri se logo gemoderniseer sodat dit nie afsteek teen die opgeknapte logo vir Agrimark nie. Die nuwe Agrimark-afdelings het ook logo’s gekry.
Tasneem Sulaiman-Bray, Kaap Agri se direkteur van Korporatiewe Sake verduidelik die ontwerp-benadering: “Ons het die groen kleurskema behou asook die ikoniese sirkel-vorm en blaarmotief wat die natuur, groei en ons erfenis simboliseer. Ons het egter die lettertipe en kleure aangepas om ‘n varser, moderne voorkoms te skep. Die ou, driedimensionele effek is ook weggelaat sodat die ontwerp makliker gereproduseer kan word en sagter op die oog is,” sê sy. “Ons navorsing het bevestig dat die Agrimark-naam sterk resoneer by klante. Die naam verteenwoordig ons besonderse erfenis, ‘n diepgewortelde waardestelsel, klante-verhoudings en diens.” Die nuwe identiteit sal in fases geïmplementeer word en sal mettertyd op alle raakpunte aangebring word.
‘n Viering van die landelike leefstyl
“Ons posisioneer Agrimark om ons landbou-erfenis sowel as ons kleinhandel-ambisies weer te gee. Agrimark vier en bevorder die landelike leefwyse. Hierdie uitgangspunt strek veel verder as om net ʼ’n sekere demografie te teiken en dit vestig ʼ’n band wat gebou word op ʼ’n gedeelde sienswyse, leefstyl en passie. Die agri-leefstyl gee ons ‘n eiesoortigheid wat ons in die kleinhandelmark laat uitstaan.”
“Die vars, nuwe handelsmerk-ontwerp weerkaats die positiewe veranderinge in die maatskappy en onderstreep die feit dat daar sekere dinge is wat nooit sal verander nie. Die kultuur van omgee of CARE, ons gemeenskapsdiens, en ons fokus op ware persoonlike klantediens sal altyd die kern vorm van alles wat ons doen. Tesame sal ons aanhou Plant en Oes, Droom en Doen, Versorg en Groei.”
Agrimark is die plek vir mense wat lief is vir die grond en die natuur; mense wat plant en oes, droom en self doen, versorg en groei. Ons is daar vir almal wat graag moue oprol en dinge doen – van die geesdriftige groentjies tot dié wat al gekonfyt is; op die plaas of in die stad, in die huis of in die buitelug. Of jy nou ’n boer is, of een gaan word, of wens jy was een, op die platteland woon of in die stad, Agrimark is hier vir jou, jou familie en jou vriende – selfs jou viervoet vriende
“Die handelsmerk bly getrou aan ons geskiedenis en is van toepassing op ons toekoms terwyl dit modern en vars is.”